Dis nou ‘n hele vet leesplesier, soos om ‘n hele blik kondensmelk alleen op te eet.
Omnibus 1: Kondensmelk, Koshuiskoffie, Blou Sjokolade
Dis ideaal vir 12/13 plus.
Kondensmelk. Ons ontmoet vir Elle op ‘n stowwerige kampterrein
in Botswana. Sy is ‘n bedorwe privaatskoolbrokkie van Johannesburg, dood van verveling met haar ouers se idee van kampeer, en grensloos geirriteerd deur die seuns op die kamp. Vir Elle wat die grootste skok van haar van eksklusiewe skoolbestaan. Haar ouers kondig aan dat hulle vir ‘n jaar Antarktika toe gaan. En sy sal moet agterbly. In ‘n meisieskool. ‘n Gewone staatskool. Met ‘n koshuis. Dis die begin van Elle se avonture in Gravitas, die skool wat eindelik haar hart steel.
Koshuiskoffie. Dis skrikwekkend om in die tweede kwartaal van graad 10 na ‘n nuwe skool te moet gaan. Maar dis die begin van ‘n hele nuwe lewe vir Elle. Een van die grootste aanpassings in ‘n gedeelde kamer. En dit met haar kamermaat, Refilwe Kgabo, die een wat vir niemand stilbly nie en ‘n hart soos ‘n skoolbus het. Dis sy wat vir Elle leer hoe mens koshuisreëls breek sonder om uitgevang te word. Ons volg Elle en Refilwe deur die gange van Gravitas, op die grasperk saam met die seuns oorkant die straat, op die geheime klein helipad, ‘n stoepie waar geheime ontmoetings plaasving. Ons leer die spookstoep ken, die tradisies van wraak en weerwraak tussen die skole. Ons leer die hele klomp eksentrieke onderwysers ken. Heksie, wat net ‘n besem en ‘n kat kort. Mev Bender, die formidabele skoolhoof. En ons leer vir Alex ken, die stil, slim ou wat Elle se hart wen.
Blou Sjokolade. Alex is die ou wat dit regkry om Elle en Refilwe saam te sleep op die Otter; ‘n staptog waarin elkeen iets nuuts van hulself ontdek. Pleks dat Elle saam die skool se orkes op hul toer na Frankryk vertrek, waar sy die dorpie wou gaan soek waar mens blou sjokolade kan koop, is sy in die skoolbus op pad Ooskaap toe. Sy gaan saam met Alex en Refi en ‘n groep tieners wat aan kanker ly, die gevaarlike Otter stap. Maar dis die avontuur van ‘n leeftyd, eem waarin Elle eindelik haar blou sjokolade kry, op die vreemdste manier denkbaar. Avontuur, romanse en hope humor.
Omnibus 2 Rocksusters, Duinebesies, Franse Vlegsel.
Vir lesers 13 plus.
Rocksusters. In die tweede omnibus sluit ons saam met Elle eers by die
skool se simfonie orkes aan, en dan by ‘n rockband, met die naam Rocksusters! Dis ook die storie van die vreemde nuwe meisie in die skool, wat swart toonnaels het en in die donker rondloop. Wat is haar geheim? En wat maak sy snags op die spookstoep met haar snaakse tassie? Lekker storie.
Duinebesies In hierdie boek volg ons Elle al die pad na die Skedelkus van Nambië.. Sy en Refilwe vertrek met haar eksentrieke oom op ‘n entomologie toer, die soektog na duinebesies. En tussen die duine het hulle die een naelbytoomblik op die ander. Hulle vind uit dat tweebeenjakkalse die gevaarlikste dier in die Namib is. En die ridder op die wit perd ry toe sy pa se ou Landcruiser.
Franse Vlegsel En asof die duine nie genoeg was nie, sleep Elle en Refi ons saam Frankryk toe, waar Refilwe se pa ambassadeur is. En Elle kry haar droom: om vir haar gunsteling komponis by sy graf te gaan viool speel. Maar net daar in Montmartre, steel ‘n vinnige straatdief Elle se foon en geld, en los haar net met ‘n viool in ‘n vreemde stad. Sal daar hierdie keer weer uitkomkans wees? Vir seker. Dis hoe Elle en Refi rol. Altyd op nommer nege-en-negentig ‘n vernuftige plan. En wat sal ‘n storie in Parys wees sonder ‘n ou op ‘n Vespa om Elle se hart soos sjokolade in ‘n warm croissant te laat smelt?
Omnibus 3 Middernagklub, Pienk Bikini, Strikdans
Vir lesers 13 plus
Middernagklub. Teen hierdie tyd ken ons Elle en Refilwe bitter goed.
Hulle is in graad 11 en die reisies vir volgende jaar se hoofmeisie is aan. Nie dat Elle en Refi hulle daaraan steur nie. Hulle hou steeds middernagpieknieks op gevaarlike plekke in die skool. Soos bo in die saal se dak. En dis hier waar hulle die geheimsinnige Nagadders ontmoet. Divan en sy vriend, Nicol boots die Britse studente van Oxford na wat snags torings, mure of ontmoontlike geboue uitklim, net om ‘boodskappe’ te los. Dinge soos ‘n toiletsitplek aan ‘n kloktoring. Net vir die pret, of soms om ‘n punt te bewys. Tussen die Mdidernagklub en die Nagadders kan die vonke spat. En dit doen!
Pienk Bikini. En dan is dit tyd vir die Pienk Bikinis! Elle en Refi besluit om die kinderhuis, Kaya Kumba, as hul uitreikprojek te kies. In die ergste hittegolf ooit, probeer hulle die kleintjies in ‘n slagorkes organiseer. Maar toe dit te warm word, gaan speel hulle saam met die kinders in die sproeiers op die gras . . . Totdat die klere waai en ‘n lekker moddergeveg tussen Elle en Refi losbars. Wat iemand toe ongelukkig afneem. En amper die einde van Elle se tyd in Gravitas is. Want toe die video op sosiale media beland, lyk ‘n onskuldige moddergeveg na iets heeltemal anders. Maar mev Bender trek haar superheldmantel aan en draai ‘n skynbaar hopelose situasie om. Dis ook die storie van die geheimsinnige stom dogtertjie in Kaya Kumba, wat diep in Elle se hart kruip. En terwyl sy uitvind hoe wreed skinderstories op sosiale media kan wees, vind sy ook uit hoe magtig die einste internet is om ‘n dogtertjie weer by haar mense te kry. Sal Elle geskors word? En wat is haar kanse om ooit ‘n witbaadjie te dra? Lees en vind uit!
Strikdans. Wat ons bring by Strikdans. Die onmoontlike gebeur: die onstuitbare mevrou Bender kry ‘n hartaanval by die skool. Terwyl sy herstel, word daar ‘n nare mannetjie in haar plek aangestel. Doktor Grimm, mislike mens met ‘n strikdas en ‘n wippende adamsappel. Die man het net een doel voor oë: om elke Gravitas-tradisie te begrawe en wiskunde tot verpligte vak vir almal te verklaar. Dit is die storie van Elle en Refilwe in die een hoek en Grimm met sy strikdas in die ander. Die jaar se kalender van danse en sport word met een streep van sy pen gekanselleer. Sal hy slaag? Sal hy Gravitas tot ‘n grys monument ter ere van wiskunde kan verander? Nie as Refi en Elle dit kan verhelp nie.
Omnibus 4 Droomkas, Vreesloos, Roekeloos.
Die laaste omnibus is ook geskik vir lesers 13 en ouer.
Droomkans. Matriekmeisies sal veral aanklank vind,
want soveel van die temas wat ‘n graad 12 se lewe oorheers, is deel van die laaste drie boeke. In Droomkans is dit die groot opbou na die matriekdans. Daar is die drama en drome rondom die perfekte rok vir die geleentheid, iets wat vir meeste meisies belangriker as hul naderende eindeksamen raak. Dis dan wanneer Elle ‘n verstekeling in die tassekamer ontdek. Een van hul matriekmaats woon skelm in die tassekamer en leef van die oorskiet van die eetsaal. Hierdie meisie se nood laat Elle besluit: basta met die belaglike klomp geld wat op rokke uitgegee word. Sy gaan van van die Droomdans ‘n Droomkans maak! En so begin ‘n heel nuwe matriekprojek. Gravitas se matrieks sit voet neer: hierdie keer gaan ‘n droom groter as ‘n duur rok die tema wees. Maar dan gebeur daar ‘n ongeluk. En almal onthou die dans om die ergste rede denkbaar. Maar selfs die ongeluk kan ‘n droom nie kelder nie. Lees maar self.
Vreesloos. Wat ons bring by Vreesloos, die matriekvakansieboek. Want as die laaste vraestel verby is, gaan almal op ‘n spesiale vakansie, of hoe? Maar hoe gaan hou jy vakansie as een van jou beste vriendinne nog in ‘n rolstoel is nà die aaklige insident tydens die matriekdans? Jy wag vir Jamie Kennedy, Leya se fabelagtige stiefma om jou te verras met ‘n vaart op ‘n drywende hotel. Die flambojante vrou maak hul laaste vakansie onvergeetlik. En wat is ‘n bootvaart sonder ‘n vinnige wegloop na ‘n verlate eiland? Dis die matriekvakansie waaroor Elle net kon droom! Want wie kom met ‘n boot op die eiland aan? Mmmm. Lekker word net lekkerder.
Roekeloos. Maar in Roekeloos kom Elle kliphard aarde toe. Sy is nog bruingebrand van die eilandvakansie, toe iemand haar matriekuitslae gesaboteer. Terwyl haar maats se foto’s in elke koerant pryk, moet sy droëbek toekyk. Wat mevrou Bender weer soos ‘n towerfee laat ingryp en Elle ‘n allerlaaste opdrag in belang van Gravitas gee. Voor sy haar oë uitvee, is sy en Refilwe saam met die nuwe graad agts op pad na hul inlywingskamp. Meer nog, sy gaan as chaperone saam vir ‘n blinde meisie uit België, wie se droom dit is om onafhanklik te bly so lank sy kan. Daar gaan ook twee veiligheidsmanne van van die ambassade saam, iets wat die storie ‘n nuwe kinkel gee. Wat lesers gaan laat wonder: sal Elle van Alex vergeet? En wat gaan Elle maak as die hardkoppige nuwe meisie haar gidshond toesluit om self oor die rivier te probeer swem? Sal dit Alex wees wat die kastaiings uit die vuur krap, of gaan die twee bonkige veiligheidsmanne eerste op die toneel wees? En wie gaan wegstap met Elle se hart? En gaan die misterie van haar verlore vraestel opgelos word? Lekker lees!
Comments are closed.