In Christien Neser se nuwe boek, Pienk is nie vir sissies, is die hoofkarakter ‘n willewragtig op ‘n bergfiets wat haar doodgril vir pienk! Sy het net een doelwit en dis om stof in die seuns se oë te ry. Ons het vir die skrywer van hierdie nuwe lekkerlees-materiaal vir tienerseuns én –meisies ‘n paar vrae gevra.
1. Hoe het die idee vir die boek ontstaan?
Daar is nie eintlik fietsrystories in Afrikaans nie, alhoewel dit een van die sportsoorte is wat al hoe gewilder raak op skoolvlak. Ons hele gesin ry fiets en ken die landskap rondom Johannesburg baie goed. Daar word amper weekliks fietse gesteel of gekaap in ons klub. Misdaad is ‘n werklikheid. Die vraag is: hoe verwerk jy dit?
2. Wat is die boek se boodskap, of wat wil jy hê moet dit vir lesers beteken?
Dis ‘n boek oor identiteit. Wie is ek? Nicci was ‘n passievolle danseres, maar is telkens oorgesien vir die hoofrolle. Op ‘n mooi dag gooi sy haar balletskoene weg. Sy sweer alles wat pienk is af en begin bergfietsry saam met die seuns. Haar nuwe identiteit is dié van vreeslose jaer. Totdat sy op ‘n dag van haar fiets beroof word en baie seerkry in die proses. Die vraag is nou: Wie is Nicci sonder haar fiets? En wat maak jy as jy uitvind wie die skuldige is?
3. Is die storie net vir meisies?
Glad nie. Nicci se boesemvriend is Godfrey Tshuma. Hy en sy suster het saam met haar danslesse geneem toe hulle jonger was. Nou ry hulle saam fiets. Maar terwyl Godfrey altyd daar is om te troos as Nicci se wiele afkom, het sy net oë vir die blonde Evan… Die fietsrykultuur kom baie sterk na vore. En enige seun met ‘n passie vir sy fiets, sal beslis met die storie kan vereenselwig.
4. Jy kom baie in aanraking met jongmense. Het jy 3 wenke vir hoe om suksesvol te wees?
1) Doen wat jy kan met wat jy het. 2) Moenie ‘n tropdier wees nie: Wees jouself. 3) Daar’s net een van jou gemaak. Wees die beste weergawe van die model.
5. Watter sport doen jy en waarom?
Fietsry. Ons ry tandem, want dis die enigste manier hoe my man nie vir my kan wegry nie!
Pienk is nie vir sissies nie deur Christien Neser is nou beskikbaar!
ISBN: 9780624085409
Prys: 160,00 (onderhewig aan verandering)