Wat maak oom Kallie daar?

Ons het ‘n vriend, ‘n baie tawwe ou. Altyd so ‘n driedagbaard, skouers soos ‘n stoeier en ‘n permanente frons. Aantreklik op ‘n ruwe manier:  So ‘n getimmerde George Cloony.  Ou Kallie.  Hy was op sy dag ‘n reccie.  Snotkoppe wat nie weet wat ‘n reccie is nie, kan maar enige ou met so bietjie grys langs die slape vra.  Hy sal jou gou vertel dat jy nie met ‘n reccie mors nie.  Nie eens ‘n oud-reccie nie.  Mens wil hulle nie onnodig laat skrik nie.  Hulle reaksies is steeds vinnig.  Meestal pynlik.

‘n Oud-reccie vat nie kanse met die veiligheid van sy huis en sy mense nie.  Ook nie Kallie nie.  Sy huis het ‘n soort militêre verklikkerstelsel. As iemand iewers op sy erf betree, gaan daar ‘n waarskuwing in sy huis af.  Hy kan op sy monitor presies sien waar die indringer is.  Dis nou sy eerste linie van verdediging.  Tweede is daar sy hond, Dawid.  Dis ‘n groot, opgeleide bokser wat gereeld deur sy passies geneem word. Dawid se rol is om die vyand van die een kant af aan te val en só die soldaat kans te gee om van die ander kant af te verras.  Die verrassing sou alles behalwe lekker wees.  Kallie se arsenaal sluit ‘n bottel pepersproei en ‘n pistool in.  Hulle oefen glo gereeld aan hierdie maneuver: Kallie hardloop een kant om die huis, Dawid ander kant om en dan val hulle saam die denkbeeldige skelm aan.  Arme ou.

Maar nou ja, selfs ysters van die elite-verkenners kry seer.  Kallie se linkerskouer keil hom laas jaar toe so vreeslik op, dat hy maar onder die mes moet gaan.  Die ortopeed het drie opdragte gekry:  Sny vinnig, sny sekuur en kry my bitter gou uit hierdie hospitaal uit.  Want sien, intussen het daar ‘n bende diewe hul buurt begin teiken.  Elke huis in hulle straat het al deurgeloop.  En met wat hierdie soldaat van die vyand weet, is dit net ‘n kwessie van tyd voordat sy vesting ook aangeval word.

Aand Een nà die operasie is Kallie al tuis, sy linkerarm stewig teen sy lyf vasgebind.  En hy is vol pynpille.  Maar soos dit ‘n soldaat betaam, lê sy arsenaal altyd gereed voor die bed.  Wat ek hier moet noem, is dat Kallie nie met pajamas slaap nie.  Watter reccie doen?

Iewers in die nag gaan sy binne-alarm af.  Hy klouter dronkerig uit die bed.  So met een arm is ‘n man se balans nie lekker nie.  Ja wraggies! Die monitor wys aksie aan die verste grens van die tuin:  Iemand het oor die heining gekom.  Hy kan sien dat daar beweging in sy tuinhuisie is, daar waar hy sy grassnyer en gereedskap toesluit.  Blikskottels!  Met een hand klim Kallie in sy ou army PTbroekie in, een wat hy al vodde gedra het.  In die  linkersak druk hy die pepersproei, in die ander een sy vuurwapen.  Met groot moeite kry hy sy koplig op.  Sy vrou kry opdrag om solank die polisie te bel.  Maar hy wat soldaat is, gaan nou eers die vyand aantree.

Hy sluip geluidloos deur al die veiligheidshekke tot buite, die hond op sy hakke.  Agter die huis gee hy vir Dawid sy tekenVat hulle!  Toe Dawid in die donker verdwyn, gaan Kallie aan die ander kant om.  Hy sluip gebukkend op die tuinhuisie af.  Gaan hurk dan agter struike om te wag dat die hond sy werk doen.  In die tuinhuisie sien hy twee figure beweeg.  Elkeen het ‘n flits.  Hy wag.  En wag.  Maar van Dawid se blaf of byt kom daar niks.  Hy loer behoedsaam om die bosse.  Geen hond in sig nie.  Maar dan kyk hy terug huis se kant toe.  Agter die gordyne van die slaapkamer se skuifdeur loer sy vrou uit.  Langs haar is Dawid se snoet teen die ruit vasgedruk.  Sal sy troep hom toe nie so wraggies in die steek laat nie, dít midde-in ‘n kontak!

Dan moet ‘n soldaat maar doen wat ‘n soldaat moet doen.  Met sy gesonde hand sukkel hy die pistool uit sy sak uit.  Die wapen moet gespan word.  Moeilik in die donker met ‘n dom linkerhand wat teen sy lyf vasgebind is.  Volgende stap is die koplig:  ‘n Man moet sy teiken duidelik kan sien.  Hy druk die gespande pistool terug in sy regtersak sodat hy met die gesonde hand die koplig kan aanskakel.  So-ja. Nou is die soldaat gereed vir aksie.  Maar net voordat hy sy wapen kan opneem, spring die wet van Newton hom voor.  Dis nou swaartekrag.  Sy getroue ou PT broekie se rek swig… en daar groet sy broek!

Kallie vertel hy’t met die een hand probeer keer dat die broek nie tot op die grond val nie.  Tevergeefs.  Daar staan hy toe:  Wydsbeen sonder ‘n wapen! Want saam met sy broek sit sy pistool en sy pepersproei toe ook op sy enkels.  Net toe gaan ‘n alarm af.  En daar vlieg die tuinhuisie se deur oop.  Die inbrekers storm uit, reg op ons soldaat af, waar hy poedelnakend hul pad vol staan.  Maar toe hulle hom sien, sê onse vriend, toe is dit of hulle so in die lug ‘n pirouette maak, omdraai en aanhou hardloop.  Reguit muur toe.  Kallie sê hulle is bo-oor die lewendige elektriese draad sonder om te hik.

Hy’t toe maar sy broek en sy wapens bymekaargemaak en die aftog geblaas.  Die hond was tog te bly om hom te sien. Dieselfde kan nie van sy baas gesê word nie.  En die polisie kom tot vandag nog.  Maar die nuus van die kaal man wat inbrekers intimideer, moes die ronde gedoen het.  Hulle het nog nie weer probleme gehad nie.  Kallie het selfs vrede gemaak met sy hond se gevegstemperament.  Solank Dawid sy ounooi oppas, sal hy steeds kos kry.  Dis net dat hy glad nie daarvan hou as sy vrinne hulle moedswillig verspreek nie.  Want deesdae noem hulle hom Kaalie.  Selfs ‘Kaalie die Grote’ sou beter afgegaan het!

Gepubliseer in Huisgenoot, 8 November 2014.

No comments yet.

Leave a Reply