Spelling is belangrik!

Gerda is ‘n terapeut in murg en been. Sy wy haar lewe aan kinders wat sukkel om te spel. Vir vrot spelling by ‘n grootmens het sy glad nie tyd nie. Haar liewe man, Johannes, is ‘n handige ou met ‘n klein ingenieurswerkswinkel by hul huis. Dis fisieke werk en soms het hy ekstra hande nodig. Dis nou veral vir daardie “heavy lifting” dat hy laas jaar twee knape in diens geneem het. Die mannetjies is pas klaar met skool en hang rond terwyl hulle wag dat iets moet gebeur. Bygesê, hulle twee het kliphard probeer om enige vorm van studie so lank as moontlik uit te stel. Boeke was nie hulle ding nie.

Só beland die twee in Johannes se werkswinkel en in Gerda se huis. Sal ons hulle name gee? Kom ons noem die lange Laurel en die korte Hardy. Dis beter dat die familie nie herken word nie.

Laurel en Hardy noem mekaar heeltyd “dude”. Johannes sê hulle het mekaar nooit op hul doopname genoem in die hele tyd dat hulle onder sy dak gewerk het nie. Soggens het die dag min of meer só begin:

“Hoezit, dude?” sou Laurel vra en vir Hardy op die rug slaan.

“Cool, dude!” sou Hardy antwoord en dan sou die twee dudes hulle take begin.

Op ‘n mooi oggend sit Gerda en sukkel met haar rekenaar. Die ding wil nie saamwerk nie. Niks wat sy doen wil help nie. En sy het verslae en rekeninge om uit te druk.  Uit radeloosheid gaan vra sy of Laurel en Hardy nie iets van rekenaars af weet nie.

“Sure, antie!” is Laurel gevat by. “Hierdie dude kan enige ding fieks.” Hy stoot sy pel Hardy vorentoe. En voordat Gerda “tegnologiegestrem”  kan sê, is haar rekenaar weer aan die werk. Hardy tik ‘n paar woorde op ‘n dokument en toets dan die drukker. Hy oorhandig triomfantlik die vel papier aan haar. “Die vout is nie by die computer nie dis by die frou.”

Sy kan net haar hande in die lug gooi dat ‘n man met matriek agter sy naam so vrot spel. Maar sy sê liewer niks. Sy weet dat hy op ‘n polonieskil deurgeskuur het. En dat sy huislike omstandighede alles behalwe ideaal is. Hy’t ‘n ma met ‘n hele rits probleme. Een daarvan is haar liefde vir Johnny W. Maar sy vertel my sy moes op haar tande byt toe Hardy windgat groet:

“Jis, vir ‘n slim vrou is antie darem dom met computers. Nes my ma.”

Sy sluk die woorde wat op haar lippe brand.  En sy is die volgende Maandagoggend só bly dat sy ‘n wag voor haar mond gehou het. Want op hul nugter maag storm einste windgat se tjom Laurel by die werkswinkel in. Hy is wasbleek.

“My tjomma kom nie werk toe vandag nie, oom,” kry hy hees uit. “Dis sy ma.” En hy hou sy selfoon na Johannes uit. Met sy leesbril op, lees Johannes die sms tekse vir Gerda voor.

Laurel: Check jo by di werk?

Hardy: Kom ni werk tu ni

Laurel: Hukom?

Hardy: My ma dood.

Johannes en Gerda is ontroer. Dood?  Die arme Hardy! Wat nou?

Gerda gaan dadelik oor na aksie. Sy sal solank begin om ‘n bak lasagne te maak. Johannes en Laurel moet dadelik ry. Hulle moet by Hardy en sy gesin kom. Die arme mense! Sy pluk gou rose uit die tuin,  druk die ruiker in Johannes se hande. Gaan troos solank, is die opdrag. Sy maak lysies van wat mens alles vir ‘n begrafnis moet doen. Kerkkantoor bel. Hoor of die dominee hom sal ontferm oor die gesin. Sover sy weet was Hardy darem in die Sondagskool vir ‘n jaar of wat. En al was die stomme vrou se lewe so ‘n deurmekaarspul, sou Gerda sorg vir ‘n netjiese begrafnis.

Johannes en Laurel stop by Hardy se huis. Grafstil. Daar’s nie ander motors nie. Dis duidelik dat hulle eerste op die toneel is. Hulle klop. Eindelik word die deur oopgemaak. Dis Hardy. Lyk op hy pas wakker geword het.

“Huh?” is sy verwelkoming.

“Sorry oor jou ma, dude.” Laurel gee sy vriend se skouer ‘n lomp druk.

“Huh?” vra Hardy weer en vryf oor sy deurmekaar kop.

En dan van agter, kom ‘n figuur by die kombuis uit. Lyk ook of sy pas opgestaan het. Pienk kamerjas en slippers.

“Wat’s fout? Het jy weer drooggemaak?” vra sy knorrig vir Hardy voor sy gang af verdwyn. “Ek gaan lê.”

Dis Hardy se ma!

Wat de..? Johannes sê hy’t nie tale gehad nie. Net met ‘n mond vol tande gestaan. Laurel was ‘n ander storie. Sy bekommernis gaan glo toe net daar in woede oor. Hy pluk Hardy voor die bors.

“Vir wat sê jy jou ma is dood, hê dude?” brul hy.

“Huh?” is steeds al wat  ou Hardy uitkry.

“Toe, check jou foon!  Vir wat sms jy my dat jou ma dood is? Dis siek, dude!”

Hardy ruk sy foon uit. Staar na die skerm. Hy kyk verslae op. “Wat is jou probleem, dude?” vra hy vir Laurel. “Ek het net vir jou gesê ek kom nie werk toe nie. Dis my ma, dude.” Toe fluister hy: “Sy’t laas nag, uhm, uitgehaak.”

En die lig gaan vir Johannes op. ‘n Teks met ‘n spelfout. En sonder ‘n komma waar hy hoort.  Wat die knaap wou sê is: My ma, dude. Beslis nie My ma dood nie.

“Hoe spel jy “dude”,?” vra Laurel woedend.

D-oo-d?” antwoord Hardy, steeds verward.

Toe klap Laurel vir Hardy. Sommer so ‘n snotklap.

Johannes het die twee outjies se kontrak kort daarna beëindig. Die vriendskap tussen die dudes was in sy peetjie en die atmosfeer in die werkswinkel net te stram.

Maar hulle het darem daardie Maandagaand ‘n lekker lasagne gehad, sê Johannes. En sy vrou het heeltyd soos die Mona Lisa geglimlag. Van rekenaars weet sy dalk min, maar spel kan sy spel. Dude.

 

Artikel gepubliseer in Huisgenoot, 23 Oktober 2014.

No comments yet.

Leave a Reply