Krisimiskat

Kietekat jou slim katater

Katastrofes kom wel later…

So begin een van Philip de Vos se versies.  ‘n Vrolike eerste lyntjie, met ‘n waarskuwing in die tweede.  Miskien moes ek dit ernstiger opgeneem het toe Geelkat se Desembervakansie ‘n kwessie raak.  Dit sou die gemmerkat se tiende alleen-Kersfees wees.  Want sedert hy as ‘n skreeumaer dingetjie in ‘n boksie van die sampioenplaas af gekom het, bly hy Kersfees tuis terwyl ons see toe gaan.  Laas Kersfees het hy weggeloop en weer soos ‘n wilde kat in die veld gaan bly. Toe ons terugkom, het Kat ons vir ‘n volle week in ‘n bo-aardse miaau verwyt.

So hierdie Kersfees sou Geelkat sáám met ons vier, in die strandhuis, saam met die familie en die honde.  Dit sou ekstra spesiaal wees, want vanjaar sou ons middelkind, kat se gunstelingmens, die aand voor Kersfees uit Frankryk aankom.  Sou dit nie vir hom die heerlikste verrassing wees nie?  Maar ek loop my in ‘n muur van weerstand vas.  Man en vriende is ewe skepties.  Die kat sal wegloop, is die konsensus. Hulle is nie soos honde wat oor hul mense treur nie.  Nee, eerder soos kantoorbase wat hul personeel mis.  Ek wil ingee en ‘n huissitter kry. Maar as Kat die volgende oggend ligvoets op die bed spring, vra ek hom:  Wil jy saamgaan see toe?  Sy spoegerige spin was beslis nie ‘n nee nie.

Die oggend van ons vertrek staan die portaal vol bagasie.  Buiten tasse en fietse, twee dierehokke, gemerk met ons foonnommers in geval van nood.  En alles moet op OR Tambo kom en daarna op die vliegtuig George toe.  Volgens instruksie breek ek die diere se kapsules in pierings jogurt oop.  Al drie slurp hul medikasie op.  Die honde raak lomerig en gaan klim rustig in hul reishok.  Die kat?  Hy raak snaaks.  Hy hardloop teen ‘n gordyn uit. Bekruip ‘n denkbeeldige voël.  O hemel, die dier is op ‘n trip!  Sy pupille is yslik en pikswart.  Die bussie wat ons kom oplaai wag al buite toe ek natgesweet die kat by sy hok instoei.

Al die pad lughawe slaap die honde.  En die kat brul.  Dis ‘n diep, ontstellende geluid.  Hy hou nie vir ‘n sekonde op nie, ook nie as die portier die hokke wegstoot by die inweegtoonbank nie.  Sorry, sorry, troos die portier.  Shame, sê die mense agter ons in die tou.  Die weeklaag van die kat verdwyn in die buik van OR Tambo My handpalms sweet.  My man sê nie ‘n woord nie, maar ek ken daardie houding:  Ek het jou mos gesê!  Ek bid tot die beskermengele van katte:  Kyk asseblief mooi na die gemmer op vlug MN901!

Toe ons op George se lughawe deur die skuifdeure stap, lui my man se selfoon.  My maag draai as ek sy gesig sien.  Slegte nuus…

“Gaan vang jou kat,” sis hy en stoot my na ‘n sekuriteitswag wat angstig rondtrippel met ‘n walkie-talkie en ‘n knypbord.  “Hulle kan nie die tasse aflaai nie!”

Hoe? Wat?  Maar ek hardloop saam met die man terug vliegtuig toe.  Die flap van die bagasieruim hang oop.  Die trappe is eenkant toe gestoot.  “Dis om te keer dat die kat uitspring,” verduidelik ‘n beampte.  “So ons sal mevrou moet optel.”  Dankie tog ek het nie ‘n rok aan nie, dink ek toe ek op die skouers van twee fris ouens klim en hulle my opstoot na die wagtende hande van nog een binne in die ruim.  “Ek dink ek het hom doer agter gesien,” sê hul makker met ‘n flits in sy hand.  “Mevrou moet maar inkruip.”

En ek kruip: eers klouter ek  vertikaal teen ‘n muur tasse uit, al agter my makker met sy flits aan.  En toe moet ek  leopard crawl, op my maag oor mense se bagasie, wat tot byna teen die dak staan.  As ek begin kietsie-kietsie in die donker roep, hoor ons honde my stem.  Katastrofe. Iewers ver onder my klink dit of hulle die hok gaan afbreek.  En soos een hond begin elke poedel en sy maat ook tjank.  Dis ‘n Babelse lawaai in die vliegtuig se pens, want Desembers is hierdie vlug vól honde wat moet Plett toe.  My keel trek toe:  die kat gaan dit nóóit maak nie!  Hy sal dit verloor in hierdie chaos!  Hoekom het ek altyd gedink dat die diere in ‘n afsonderlike, lugversorgde kompartement vlieg?  Maar nee, hulle hokkies word tussen alleman se tasse en gholfsakke ingedruk.

En dan, die mirakel.  Heel agter teen die romp van die vliegtuig skyn die flits in die oë van die kat.  Hulle gloei boosaardig rooi en groen.  Hy het sy kloue diep in vier verskillende sakke vasgekap, heeltemal versteen.  Hoe lank sou hy daar gesit het?  Wanneer het hy uit sy hok gekom?  En HOE?  ‘n Dubbele sluitmeganisme waarmee ék gesukkel het?  Totale misterie.  Vermoede Nommer Een is dat my makker die kermende kat jammer gekry het en gou sy koppie wou vryf… en dat kat toe vinniger as kat-se-blad by hom verbygevlieg het, hóóg bedwelm en redeloos.  Maar ek kry Geelkat se halsbandjie beet en maak hom poot vir poot los.  Ek soen hom dat my lipstiffie vol hare sit.  Natuurlik krap hy my flenters om dankie te sê.

As ek met kat terug in sy hok by die aankomssaal inloop, staan die passasiers steeds radeloos by die leë vervoerband.  Ek kry die vuilste van vuil kyke.  Jammer, mense.  Dit was ons.  En as een van julle ‘n stukkende sjampoebottel of ‘n gebreekte vrugtekoek uit jou tas haal, dan was dit seker ook ons.  Groot ekskuus.

Maar was dit toe die moeite werd?  Absoluut.  Want wat is ‘n krismis nou sonder ‘n kat?

No comments yet.

Leave a Reply