Outisme: n Wye spektrum met verskillende simptome en ervarings.

“Ons is nie almal dieselfde nie, soortgelyk maar nie identies nie.”

– Emile Gouws, ambassadeur vir outisme en self op die spektrum.

Die Amerikaanse vereniging, Autism Support Network, se slagspreuk is: “Autism is not a disability, but a different ability.” Om die rede behels outisme ook nie bloot n eenvoudige en vinnige diagnose en siedaar behandeling kan begin nie. Om n akkurate diagnose te maak, verg n uitgebreide proses en uiteindelik is dit net ‘n ervare mediese spesialis wat die diagnose mag maak. Daarna is daar ‘n hele span wat betrek word om die kind wat op die outismespektrum is, by te staan. Die skrywer en spraakterapeut Christien Neser het n spesiale belangstelling in outisme en Afrikaans.com het by haar gaan kers opsteek.

Outisme Christien NeserWat is outisme? Waarna moet ouers/onderwysers oplet as hulle vermoed dat ’n kind outisties is?

CN: Kom ons begin by die term outisme. Dit dateer uit die 1920’s toe navorsers probeer het om iets van die afgeslotenheid van hierdie persone vas te vang. Maar kom ek voeg dadelik by: outisme is ’n wye spektrum. Nie twee persone wat as outisties gediagnoseer word, het presies dieselfde simptome of ervaring nie. In die woorde van Emile Gouws, ’n ambassadeur vir outisme en self op die spektrum: “Ons is nie almal dieselfde nie, soortgelyk maar nie identies nie.” Outisme word wel gekenmerk deur probleme of tekorte in kommunikasie en/of taalvaardigdheid, sosiale vaardighede en sensoriese integrasie. Daarby is ’n vierde kenmerk ’n nou en obsessiewe belangstellingsveld. Senutrekkings, herhalende bewegings of sogenaamde tics, kom dikwels voor. Hierdie aspekte klink sommer maklik om raak te sien, maar dis ’n kuns en ’n wetenskap om outisme akkuraat te diagnoseer. Daarvoor is ‘n spesialis taakspan nodig. Dit sluit in die huisdokter, spesialis soos ’n kinderarts of neuroloog of psigiater, spraakterapeut, arbeidsterapeut en ook ’n sielkundige. Dis nie ’n eenmalige, vinnige besoekie aan ’n dokter nie. Dis ’n proses van waarneming, familiegeskiedenis afneem, toetsing en gesamentlike besluitneming. Selfs al vermoed ’n onderwyser of terapeut of ouer dat ’n kind op die spektrum is, mag slegs ’n mediese spesialis die diagnose maak.

Wat is tipiese kenmerke/gedragspatrone van ’n kind op die spektrum waarna ’n mens moet oplet voordat ’n kundige geraadpleeg word?

CN: Vanaf babatyd is die kind op die spektrum anders. Afhangend van die graad van outisme, mag die kenmerke meer of minder duidelik wees. Hier is ’n paar om dop te hou:

  • Die baba wat nie met klanke speel en begin babbel hier van 4 of 5 maande af nie.
  • Die baba wat nie van vashou en drukkies hou nie, wat huil as hulle geswaai of gesus word.
  • Die baba wat nie grootmense naboots met aksies soos tata en handjies klap nie (voor ’n jaar).
  • Die baba wat teen ’n jaar oud geen woorde naboots nie; nie met die vinger begin wys nie.
  • Die baba wat onverklaarbaar huil en moeilik getroos word, wat vrese het vir geluide, mense, diere.
  • Die baba wat nie genot en deelname wys as daar met hulle gespeel en gesels word nie. Dis die baba wat nie met aandag na mense se gesigte kyk en probeer deel wees van ’n gesprek nie. In Engels: no joint attention to speech. Hou in gedagte dat ’n baba wat ’n gehoorverlies het, ook dieselfde gedrag mag toon.

Soms wys outisme eerste simptome rondom 2 of 3 jaar oud. Dan is die tekens ’n skielike verlies van spraak, onverklaarbare huilbuie of tantrums, uiterste sensitiwiteit vir klanke (gehoor), smake en teksture van kos, teksture van kledingstukke (taktiele stimulasie) en ’n skielike obsessie met dinge wat draai of tol. Daar kan ook ’n regressie wees van toiletgewoontes en ander onafhanklikheid.( ‘n Volledige lys van hierdie rooi vlaggies, verskyn in die  boek*. )

Outisme se simptome is oor ’n breë spektrum versprei

Screaming little boy child covering ears with hands.Een kind mag net effens sensitief wees vir vuil hande, die ander mag ’n allemintige uitbarsting hê as hul hande vuil word. Een mag volsinne gebruik, ’n ander een mag dalk net enkelwoordsinne sê. Tussen 3 en 5 jaar oud word hul gebrek aan sosiale vaardighede veral duidelik. Meeste van hierdie outjies gaan dan na ’n kleuterklas, waar maatjies maak ’n groot probleem mag wees. Emile Gouws vertel in die boek* hoe hy as kleuter maatjies gebyt het, uit frustrasie omdat hulle hom nie kon verstaan nie. Hy verduidelik dit aan die hand van die hoë vlak van angs wat kinders op die spektrum ervaar. ’n Kind wat angs ervaar, se byniere skei  hope adrenalien af. Dit het een van drie reaksies tot gevolg: veg, vlug of vries. Vir hom was dit veg (byt of skop), vries (hande flap langs sy gesig) of vlug (onttrekking deur weg te kruip of te skree).

Die hoogs funksionerende kind se simptome

Hoogs funksionerende kinders se simptome is minder akuut en hulle kan makliker in ’n hoofstroomskool funksioneer. In die ou dae sou ons hier van Aspergersindroom gepraat het. Met die nuwe kriteria van die DSM 5 (Diagnostic and Statistical Manual), is Aspergersindroom vervang met die term “hoogs funksionerend.” Hierdie kinders sal steeds sosiaal meer probleme ondervind, geneig wees om lesings te gee, eerder as om te gesels, ’n nou belangstellingsveld hê, obsessief wees oor sekere dinge, uiters roetinegebonde wees, selektiewe eters wees, sekere kledingstukke nie wil dra nie, eienaardige taal hê. Soms herinner die taalgebruik aan ’n volwassene s’n. Hulle leer maklik vreemde aksente aan en is baie geheg aan skerms. Televisieprogramme of rekenaarspeletjies kan hulle ure besig hou. Hulle begin dikwels karakters se spraak naboots of sal sommer met ’n Amerikaanse aksent begin praat. Tweetaligheid vorder gewoonlik nie goed nie en hulle verkies dikwels die taal van hul televisie. Omdat hulle objekgebonde is, is ’n rekenaar hul beste maat. Die tegnologie is vir hierdie kinders ’n groot uitkoms. In die preprimêre klaskamer, vind hierdie kinders dit moeilik om te wag vir ’n beurt, hulle deel nie graag speelgoed nie en kan geraas gewoonlik nie hanteer nie. Onthou, hulle is per definisie sensories hipersensitief. Ek het al met hoogs funksionerende kleuters gewerk wat hulself voorskools leer lees het. Daar is kenners wat van mening is dat outisme ’n gawe is. Geen wonder dat geniale persone soos Mozart en Einstein al die tekens van outisme getoon het nie.

Hoe gemaak as mens vermoed dat jou kleuter op die spektrum is?

Die eerste persoon om te kontak, is die huisdokter. Vra egter dat die onderwyser ’n verslag oor die kind skryf. Alle inligting wat die dokter met sy diagnose kan help, moet ingewin word. As die huisdokter kundig en wys is, sal julle direk na ‘n pediater of pediatriese psigiater verwys word. Van hier af sal verdere verwysings volg en ’n behandelingsprogram uitgewerk word.

*Help! My kind is anders deur Chrisiten Neser – Hoofstuk 12, pp. 159 – 173

Watter raad sal jy ouers gee oor hoe hulle die situasie en ook die reaksie van ander mense op ’n positiewe manier kan hanteer?

CN: Kennis is mag. Bemagtig jouself eerstens met soveel moontlik kennis oor outisme.

  • Sluit by ondersteuningsgroepe aan, soos Autism SA. So gaan jy met ander ouers in aanraking kom wat met dieselfde kwessies sukkel. Deel raad en bronne met mekaar.
  • Vind maniere om jou familie en vriende in te lig. Ek weet van ouers wat ’n oulike boekie saamgestel het oor dinge waarvan hul vyfjarige kind hou en ook nie van hou nie, en ook van verwagte gedragspatrone. Dit gaan saam na verjaardagpartytjies of waar die kind ook al met maatjies in kontak sal kom. Die ander ouers word so voorberei om stressors uit te sny en die kind gemaklik te laat voel.
  • Met Covid in ons midde, gaan kinders nie nou saam winkel toe nie. Maar post-Covid sal hulle weer. Belê in goeie oorfone wat die kind kan dra, om geraas uit te skakel. Hulle kan ook hul gunstelingmusiek luister, wat hulle dadelik sal kalmeer. Party doen ook goed met ’n donkerbril om lig uit te skakel.
  • En hou by roetine! ’n Kind op die spektrum floreer met voorspelbare roetine. Hulle moet betyds ingelig word as die planne gaan verander. Dit mag wees dat julle vandag na ’n ander winkel gaan as gewoonlik, of by ’n ander plek gaan ontbyt eet. Maak seker hulle verstaan. Prentekaarte om die roetine uit te beeld, werk uitstekend. Die dag se roetine behoort in hul kamer opgeplak te wees, of op hul foon of tablet te wees, sodat hulle konkreet gewys kan word wat elke dag gaan gebeur.

Daar is ’n wanopvatting dat die MMR-inenting outisme veroorsaak. Wat is die feite?

Die MMR-inenting kan NIE outisme veroorsaak nie, maar het weliswaar ’n beskermende funksie.

Outisme-2 Christien Neser

 

CN: Daar is die afgelope twintig jaar ’n golf van protes teen die inentings wat babas en kleuters moet deurgaan. Dit is veral die MMR (measles, mumps, rubella) wat in die spervuur is. Die ‘anti-vaccers’ is groepe wat weier dat hul kinders ingeënt word, weens die vrees dat outisme hierdeur veroorsaak kan word. Ek het hierdie besware aan prof Petrus de Vries, hoof van kinderpsigiatrie aan die Universiteit van Kaapstad se mediese skool gerig. Hy het ’n superspesialisasie in outisme gedoen. Sy antwoord was ’n onomwonde NEE.  Die MMR-inenting kan nie outisme veroorsaak nie, maar het weliswaar ’n beskermende funksie.

’n Reusestudie van data (’n metastudie), is vanaf 2009 tot 2019 in Denemarke gedoen met die data van 600 000 kinders van oor die wêreld heen. Die uitslag van hierdie studie is op 16 April 2019 in die gerespekteerde joernaal, Annals of internal medicine, gepubliseer. Die gevolgtrekking: Daar bestaan geen bewys dat die MMR-inenting en outisme verband hou nie. Babas kry op 9 maande die MMR-inspuiting. Dis eina en die babas mag huilerig en koorsig wees vir ’n dag of twee.  Dis gewoonlik ook rondom 9 maande wat babas begin woordjies naboots en begin ‘mens’ raak. Dis dan ook op hierdie ouderdom wat ouers kan begin oplet dat hul baba se interaksie nie na wense ontwikkel nie. Dit is hierdie toevallige sameval van ’n inenting en ’n eerste oplet van ’n kommunikasiegebrek, wat waarskynlik aanleiding gee dat ouers die twee sake met mekaar verbind. Ons as mense het dit nodig om ’n oorsaak vir ’n probleem te vind. Of die oorsaak dan waar of vals is, maak nie altyd saak nie. Solank ons net ’n oorsaak het.

Interessant: In Amerika was daar in 2016 ’n uitbraak van masels, juis weens die groot aantal ouers wat die MMR teengestaan het. Met Covid op ons drumpel, is dit interessant dat die MMR nou voorgestel word as ’n moontlike beskerming teen die virus. Daar is nog nie uitsluitsel nie, maar die saak geniet groot voorrang onder navorsers. Gaan lees meer hier.

Nuttige hulpbronne:

  • Die Ernie Els-stigting: ernieelscentre4autism.co.za
  • Outisme Suid-Afrika (ASA) vir ’n volledige lys van geregistreerde skole: asa.org
  • Raadpleeg neuro-ontwikkelingseenhede by staatshospitale vir gratis evaluering. Sommige het spesifieke neuro-ontwikkelingsklinieke.
  • Autism Support Network (in Amerika): autismsupportnetwork.com

, ,

Comments are closed.