Onderhoud met Christien Neser oor nuwe boek “Strikdans”

1. ‘Strikdans’ – die negende boek in die Elle-reeks – het pas verskyn. Wat is vir jou die heel lekkerste deel daarvan om die reeks te skryf?

Op ’n manier hou ek met die reeks my eie en my kinders se tienerjare lewend. Mens delf tog maar in jou eie ervarings rond. En op ’n manier hou dit tieners wat ek ken of waarmee ek al te doen gehad het, ook lewend. En soos hulle sê: Dis nooit te laat om gelukkige tienerjare te hê nie!

2. Elle, Refi, Leya en die ander karakters is so geloofwaardig. Is hulle gebaseer op mense wat jy ken, of kom hulle net uit jou verbeelding?

Elke karakter is op iemand geskoei wat ek ken. Dit maak dit makliker om te voorspel hoe hulle gaan optree. Maar elkeen kry darem ook stertjies by vir effek! As ek sê wie elke karakter inspireer, is ek netnou in die moeilikheid.

3. Vertel ’n bietjie van jou eie hoërskooljare. Watter van die karakters in die Elle-reeks sou op skool waarskynlik jou beste vriendin gewees het?

Ek sou graag ’n Refilwe in my lewe wou gehad het. Een wat vir g’n duiwel stuit nie en my kon leer om stout te wees sonder om uitgevang te word. Ek was seker die soetste kind in die skool: jou klassieke stil, slim kind wat bang was om in die moeilikheid te kom. Die wilde meisies wat gerook het en reëls gebreek het, was vir my soos godinne.

4. Wat is die heel lekkerste terugvoering wat jy al ooit oor die reeks gekry het?

Ek kry nogal baie e-posse van lesers. Dis wonderlik hoe interaktief tegnologie ons met mekaar maak. Dis moeilik om een briefie uit te sonder. Dis hartslekker as ’n ma jou laat weet dat haar nie-leserdogter ’n Elle-boek opgetel het en nou soos ’n besetene lees. Onlangs het ’n meisie my uit Dubai laat weet dat sy die boeke lees telkens as die heimwee na Suid-Afrika en Afrikaans haar oorval. In haar eie woorde: “Tannie, jy weet nie wat die boeke vir my beteken het nie.” Dis snak-asemmooi!

5. Elle is nou hoofmeisie van Gravitas. Gee ons ’n klein voorsmakie van wat in ‘Strikdans’ gaan gebeur …

Wel, sy oorleef die Groentjiekamp en is lekker wintie as sy aan die jaar dink wat voorlê. Buiten vir een verskrikte graadaggie wat heeltyd probeer wegloop, lyk die oes nuwelinge reg vir die jaar. Daar’s honderd-en-een planne en funksies beplan, alles in die gees en tradisie van Gravitas. En dan gooi die lewe haar ’n draaibal. Mevrou Bender word siek. Sy word vervang met ’n man met geen snars tyd vir tradisie nie. Partytjies en danse sneuwel heel eerste in die oorlog tussen Elle en doktor Ferdinand Grimm. Hy het net een doel: om Gravitas die voorste wiskundeskool te maak. En so begin matriek, met Grimm wat ’n skrikbewind voer. Elle en Refi speel die skaakspel van hul lewe teen hom. En dan ontdek hulle die swak plek in sy mondering: sy vrees vir katte. Gaan tradisie seëvier, of gaan Gravitas ’n eksperimentele skool van uitnemendheid word? Dis die vraag!

Koop die boek hier: http://bit.ly/2yN5E2Z

Besigtig LAPA Uitgewers se kersaanbevelings hier: http://bit.ly/2htAx14

 

, ,

Comments are closed.