Hierdie is die vierde titel in die gewilde reeks met Elle as die hoofkarakter en Alex as die ou wat haar hart vinniger laat klop! Die eerste boek Kondensmelk is gevolg deur Koshuiskoffie en Blou sjokolade.
Ek onthou hoe beindruk ek was destyds toe ek Kondensmelk gelees het. Hierdie skrywer verstaan die emosionele en geesteswereld van ‘n tiener; en sy skryf boeiend, maar ook lekker gemaklik en met ‘n tikkie humor. In Rocksusters kan die orkes aan die Musikanto landswye skolefees deelneem; geld moet ingesamel word vir ‘n ordentlike blyplek sodat Elle en haar vriendinne moet koekies bak wat hulle aan die seuns verkoop. Divan hulle beslauit om ‘n rockgroep te begin, en hulle klink baie vrot. Elle met haar klassieke opleiding moet help om hulle beter te laat klink en miskien selfs te laat wen. En dan is daar die nuwe meisie Leya; sy dra swart en sluip snags in die donker rond. Maar Leya kan klavierspeel; en die meisies werk saam om sukses te behaal.
Lees netso lekker soos die vorige boeke in die reeks; ‘n skoolstorie vir seuns en meisies; vol energie en sterk emosies. Hoogs aanbeveel.