Omnibus 3: Middernagklub, Pienk Bikini, Strikdans

Vir lesers 13 plus

Middernagklub. Teen hierdie tyd ken ons Elle en Refilwe bitter goed. Hulle is in graad 11 en die reisies vir volgende jaar se hoofmeisie is aan. Nie dat Elle en Refi hulle daaraan steur nie. Hulle hou steeds middernagpieknieks op gevaarlike plekke in die skool. Soos bo in die saal se dak. En dis hier waar hulle die geheimsinnige Nagadders ontmoet. Divan en sy vriend, Nicol boots die Britse studente van Oxford na wat snags torings, mure of ontmoontlike geboue uitklim, net om ‘boodskappe’ te los. Dinge soos ‘n toiletsitplek aan ‘n kloktoring. Net vir die pret, of soms om ‘n punt te bewys. Tussen die Mdidernagklub en die Nagadders kan die vonke spat. En dit doen!

Pienk Bikini. En dan is dit tyd vir die Pienk Bikinis! Elle en Refi besluit om die kinderhuis, Kaya Kumba, as hul uitreikprojek te kies. In die ergste hittegolf ooit, probeer hulle die kleintjies in ‘n slagorkes organiseer. Maar toe dit te warm word, gaan speel hulle saam met die kinders in die sproeiers op die gras . . . Totdat die klere waai en ‘n lekker moddergeveg tussen Elle en Refi losbars. Wat iemand toe ongelukkig afneem. En amper die einde van Elle se tyd in Gravitas is. Want  toe die video op sosiale media beland, lyk ‘n onskuldige moddergeveg na iets heeltemal anders. Maar mev Bender trek haar superheldmantel aan en draai ‘n skynbaar hopelose situasie om. Dis ook die storie van die geheimsinnige stom dogtertjie in Kaya Kumba, wat diep in Elle se hart kruip. En terwyl sy uitvind hoe wreed skinderstories op sosiale media kan wees, vind sy ook uit hoe magtig die einste internet is om ‘n dogtertjie weer by haar mense te kry. Sal Elle geskors word? En wat is haar kanse om ooit ‘n witbaadjie te dra? Lees en vind uit!

Strikdans. Wat ons bring by Strikdans. Die onmoontlike gebeur:  die onstuitbare mevrou Bender kry ‘n hartaanval by die skool. Terwyl sy herstel, word daar ‘n nare mannetjie in haar plek aangestel. Doktor Grimm, mislike mens met ‘n strikdas en ‘n wippende adamsappel.  Die man het net een doel voor oë: om elke Gravitas-tradisie te begrawe en wiskunde tot verpligte vak vir almal te verklaar. Dit is die storie van Elle en Refilwe in die een hoek en Grimm met sy strikdas in die ander. Die jaar se kalender van danse en sport word met een streep van sy pen gekanselleer. Sal hy slaag? Sal hy Gravitas tot ‘n grys monument ter ere van wiskunde kan verander? Nie as Refi en Elle dit kan verhelp nie.

 

KOOP AANLYN

Beskikbaar by alle groot boekhandelaars en in E-boek formaat (Lapa uitgewers).

TERUG NA DIE ELLE REEKS