HELP! My kind is anders

Hierdie boek is spesifiek gerig op voorskoolse kinders en hul ouers, onderwysers en naastes. Tussen geboorte en 7 jaar, vind die mees omvangryke groei en ontwikkeling in ‘n kind se lyfie plaas. Fisies, motories, kognitief, emosioneel en sensories is dit ‘n tyd van dramatiese selverdeling, sinapsvorming en leer. Dis ook die tyd wanneer die brein se plastisiteit optimaal is en wanneer vroeë ingryping die grootste verskil kan maak. Die boek is as handige metgesel vir ouers van jong kinders geskryf, rigtingwysers op die wonderlike ontdekkingsreis wat hulle saam met hulle kinders vanaf babtyd tot grootskool meemaak.

“Hoekom is soveel kinders deesdae in terapie?” Dit was die vraag van ‘n vriendin wat hierdie boek tot gevolg gehad het.

Dit is moeilik genoeg om ‘n doodgewone teksboekbaba groot te maak. Des nog te meer as jou kind ‘n nuk of ‘n gril het. Maar wat as daar werklik iets ernstig verkeerd is. Hierdie boek probeer 15 van ouers se mees algemene vrae aan terapeute beantwoord.

– Wat as my kind nie kan hoor nie?

– Wat as my kind nie begin praat nie?

– Wat as ek bekommerd is dat my kind nie sal kan lees nie?

– Wat as my kind hakkel?

– Wat as my kind lae spiertonus het?

– Wat as my kind ‘n arbeidsterapeut moet sien?

– Wat as my kind nie skoolgereed is nie?

– Wat as ons meer as een taal tuis praat?

– Wat as my kind dalk aandagafleibaar en hiperaktief is?

– Wat as my kind op die outisme spektrum is?

– Wat as my kind deur angs gepak word?

Elkeen van die 15 vrae is aan spesialiste in hul veld gevra. Die antwoorde sal ouers bemagtig om te weet na wie om te gaan vir hulp, maar ook wat om tuis te doen.

Die laaste gedeelte van die boek bevat 11 ware verhale van die pad wat ouers met hul kinders gestap het. Hierdie ouers gee raad uit eie ervaring. Wat doen mens byvoorbeeld as jou baba met Downsindroom gebore word of doof gebore word? Wat as jou perfekte baba ‘n geboortebesering opdoen en serebraal gestrem raak? Wat as jou baba uiters prematuur gebore word? Wat as jou kleuter met ‘n seldsame en lewensbedreigende sindroom gediagnoseer word?

Wat doen jy as jou kind aan epilepsie ly maar jy in ‘n Afrikaland sonder infrastruktuur sit? Wat sê ‘n volwasse outis aan ouers oor sy reis met hierdie neurobiologiese kondisie?

Of jy jou kennisbasies oor die wonderlike wêreld van kinderontwikkeling wil uitbrei en of jy wel ‘n anderster soort kind het, hierdie boek bevat die kennis en raad van ‘n groep besonder kundige mense.

Medewerkers aan die boek:

Prof Petrus de Vries, psigiater en hoogleraar aan UK Dr Brendan Belsham, kinderspsigiater, Randburg Dr Hanneke Malan, psigiater, Pretoria Dr Ronel du Toit, voorligtingsielkundige, Pretoria Dr Tertia de Klerk, kliniese sielkundige, Bryanston Agneta Grové, oudioloog, Vereniging Carina Petzer, spraakterapeut, Johannesburg Bea Duvenhage, spraakterapeut, Bryanston Erna Engels, arbeidsterapeut, Centurion Charlene Cruickshank, arbeidsterapeut, Johannesburg Carien Muller, Speelterapeut, Pretoria Alta Crous, fisioterapeut, Johannesburg

Dis ‘n praktiese boek, vol wenke en hoop, met volop wenke vir die preprimêre klas. Mag dit deel raak van elke preprimêre en grondslagfase onderwyser se arsenaal.

HELP! My kind is anders (LAPA) 2020