n Man soos Max

2016-07-04 17_46_20-Photos

“Ek sal terugkom vir ‘n man soos Max,” sê Tilde en spin die slaaiblare droog. “Vir geen ander rede nie.  Hierdie pak slaaiblare is ‘n perfekte voorbeeld. Glo klaar gewas. Maar met die oopmaak kry ek ‘n vet groen ruspe daarin. As dít in Londen moes gebeur..!” Sy laat die sin in die lug hang. Toe, kry vir julle.

“Liefie, daar is nie mans soos Max nie,” sê haar ma kalm. “Jou idee van perfeksie gaan jy nie dié kant van die graf kry nie. Hulle het almal streke.

“Met streke kan ek huishou,” sê Tilde. “Max het ook streke. Dis met kleinlikheid en kleingeestigheid  wat ek ‘n probleem het. As ek nou al die mans wat ek tot dusver ontmoet het in ‘n ry pak, dan sal ek hulle in drie kan verdeel. Die een kant is die kansvatters. Hulle wil bed toe as hulle vir jou ‘n bier gekoop het.”

Tilde hoor haar ma na asem snak. Sy geniet haar gate uit om haar ma te skok. As mens eers drie-en-dertig is, raak jy roekeloos, selfs voor jou eie ma. “Dis ‘n feit. Meeste Britse mans glo dat ‘n eerste afspraak tussen die lakens eindig. Punt.”  Tilde gooi die blare op ‘n plat bord uit. “Maar aan die ander kant van die spektrum, sit die ouens wat jou beste pel wil bly tot in lengte van dae. Daar’s dalk ‘n lekker vry nou en dan, maar jy bly vir hulle ‘n buddie met byvoordele. Selfs na vyf jaar, dankie Sam!”

Sy kap die komkommer aggressief in papierdun skyfies. Hoe graag sou sy nie die slapgat self met ‘n mes wou bykom nie. Vyf jaar lank vir ‘n man gewag, gekook, gewas; met hom gestap, gefiets, geroei, geklim. Sy ma se verjaardag klokslag onthou, sy ouma vir inkopies geneem, sy broer se kleintjies opgepas. Maar die woord trou het Sam laat wegkrimp soos ‘n slak wat sout gekry het. En toe sy die ultimatum stel? Toe wil hy met sy Oxford aksent weet: “Why spoil a great relationship?”

 Ha! Sy kap die tamaties dat die pitte spat. “Wat my dus los met die klompie mans in die middel. Die vaal, vervelige voorspelbare Freddies.” Sy sprinkel die pakkie geroosterde neute oor die slaai, rond dit af met klonte feta en ‘n goeie skeute olyfolie. “As ek vir ‘n man soos Fred moes settle, het ek myself in die Teems verdrink.”

Tilde plonk die bak slaai voor haar ma neer. “So daar’s die storie, Ma. Ek het ‘n fantastiese werk in Londen, ‘n lekker woonstel en ‘n ongelooflike vriendekring. Ek het ‘n man so nodig soos ‘n vis ‘n fiets.”

“Maar, Tildetjie, die lewe kan eensaam raak so op jou eie. Wat van tannie Cilna se Fonnie? Julle was mos lekker maats op skool. En hy’s nog nie getroud nie, hoor. Goeie werk by Standard Bank. Hoog op al.” Haar ma se lip bewe.

“Ma, Fonnie hoort saam met Fred in daardie vaal, vervelige groepie in die middel. Iewers wag daar vir hom ‘n vaal, vervelige Fienie wat sy voete vir hom sal vryf elke vervelige Vrydagaand voor die televisie.”

“My magtag, Sus, jy allitereer verskriklik!” Dis Jakkes. “Weet jy wat dink ek? Ek dink jy het hierdie toespraak vir aande lank in jou Britse bedjie lê en oefen.” Hy koes vir haar vadoek. “Soek jy nog steeds ‘n man soos Max?” Hy draf met sy muurbalraket verby en weer haar woeste veeg na hom af. “Nou gaan soek dan vir jou ‘n kruppel ou. Max is deesdae mank.”

Tilde swaai om. “Is dit so, Ma? Is Max siek? Was julle al by die veearts? Ek het niks opgelet toe hy kom groet het nie?”

 “Tilde-kind, gee my net kans. Jy praat so vinnig. Die laaste drie weke is hy effens kruppel. Maar vandat jy vanoggend gekom het, is hy sommer weer pure perd. ”

Tilde los haar ma in die kombuis. Sy kry Max waar hy in ‘n sonkol op die sitkamerbank lê en slaap. “Max? Maximillian?” Sy praat saggies met die hond. Sy’t hom in haar honneursjaar gekry, toe sy met pelle ‘n huis gedeel het. Haar pa het die hondjie by die studentehuis aangebring, waar sy toe al drie dae in ‘n donker kamer gelê het. Dit was nadat sy met Darius opgebreek het. Haar trouman! Toe nie. Max se warm lyfie was die pleister op ‘n baie rou hart.

En toe kom Engeland. Die werk by Barclays in Londen. Onweerstaanbaar. Dit het gekom toe sy die groef van skewe verhoudings net móés ontvlug. Daar was nie meer ‘n hubare man in haar sirkel oor nie. Die dam was leeggevang. “Elke man wat ek ken is óf getroud óf gay,” het sy een aand moedeloos gesug en die kontrak vir Londen geteken. Max moes agterbly.

“Max,” sy krap agter sy flapoortjie. “Waar kry ek ‘n man soos jy? Een wat luister, wat verstaan, wat dink ek loop op water?” Sy kielie sy lies. “Waar kry ek iemand wat sterk en seker is van homself? Maar wat om hemelsnaam nie homself te ernstig opneem nie?”

Sy kielie hom onder sy kieliebak. Dan verstil haar hand. Sy voel ‘n knop. Dis ‘n groot een, soos ‘n gholfbal. Geen wonder die hond loop mank nie!

“Maaaaa!” gil sy. “Jakkes!”  Sy tel die hond op en hardloop kombuis toe. “Max moet by ‘n dokter kom. Daar’s ‘n yslike gewas in sy oksel.” Sy snik op die laaste woord. “Kan ek Ma se kar leen?” Sy stoom by haar ma verby. “Ek kan nie glo julle het dit nie raakgesien nie.”

“Genugtig, Tilde,” haar ma lyk of sy doodstyding gekry het. “Ek voel ellendig. Hy was drie maande terug by dok Jack vir sy inentings. Toe was daar niks…”

“Is julle nie meer by tannie Shirley nie?” vra Tilde ontsteld. Dis die veearts van hul kleintyd, net om die hoek.

“Dis Shirley se broerskind. Hy het die praktyk by haar oorgeneem. Ry jy. Ek bel die spreekkamer.”

Die spreekkamer ruik nog net soos toe sy Max destyds hierheen gebring het vir al sy inspuitings. Die ontvangsdame van toeka wag by die deur. Emily Bates. Sy koer oor Max soos oor ‘n siek kind.

“Waar’s my siek seuntjie? Maxie? Kom ons weeg jou gou.” Sy raap die hond uit Tilde se arms en sit hom op die skaal. “Gaan wag in die eerste kamer. Dok Jack is nou by julle.” Sy trek groot oë. “Eers ‘n hondegeveg toegewerk. Vreeslike storie.”

Tilde sit Max op die staaltafel neer. Hy lyk pateties. Alles aan hom hang. En dis só ‘n man wat sy wil hê? Beloof jy om hom lief te hê in voorspoed en gesondheid, in siekte en nood… Natuurlik!

“Jou ma het gebel.” Die man wals by die oop deur in. “Kom ons kyk.” Hy ignoreer Tilde asof sy nie bestaan nie. “Watsit my pel? Iets nie lekker hier in jou oksel nie?” Hy gesels met Max soos met ‘n mens. “Ja-nee. Hier sit hy. Maar hy beweeg. Dis altyd goeie nuus. Wat sê jy dat ons jou oornag hou en môre gou die knop uitsny? Middagete is jy by die huis. Klink dit na ‘n plan?”

 

, ,

2 Responses to n Man soos Max

  1. bbw cams August 31, 2018 at 6:41 am #

    Your way of explaining everything in this paragraph is truly fastidious,
    all be able to effortlessly know it, Thanks a lot.

  2. a December 27, 2018 at 2:41 pm #

    Hello, I log on to your blog regularly. Your humoristic
    style is awesome, keep it up!

Leave a Reply