Leë nes

Nuwe “kuikens” vir ’n leë nes is nie noodwendig die beste medisyne nie – vra maar die bewende Staffies en Great Danes!

Die jaar toe ons jongste kosskool toe gaan, sit ek toe ook met ’n leë huis.  En ’n man wat aankondig hy gaan ’n maand afvat om Amerika van wes na oos te gaan deurkruis: op sy fiets.  Vir hom lê daar 3 000 opwindende kilometer voor;  vir my 30 dae in ’n leë nes.  Nes?  Ek moes die woord nooit gesê het nie.  Want my man is ’n Landbouweekblad-fan…

Die middag voor hy vertrek – die fiets en sakke klaar gepak – roep hy my buitentoe.  Ek moet my oë toemaak en by die dam in ons tuin gaan wag.  Hy’t ’n verrassing vir my.  Verrassing?  Dis glad nie in sy aard nie.

Terwyl ek toe-oë op die wal staan, hoor ek hom iets nader sleep.  Daar’s ’n gestoei in die riete.  “Kyk maar!” hyg hy eindelik.  En ek kyk.

Teen die laatmiddagson, oor die gladde oppervlak van die dam kom iets beeldskoon en bo-aards aangeseil.  ’n Swart swaan!  En oomblikke later, nog een!  Lewende beeldhouwerke op ons doodgewone dam!

Maar ou romantikus se briekliggies het skaars verdwyn of die bleddie Landbouweekblad-specials wys hulle ware kleure.  Koebaai kunswerke, hallo duiwelskinders.

Die wyfie het eerste op die muurtjie uitgeklim.  Ek het koetjiekoe-end nader gestaan, ounooi se mooiste ding!  Toe peul Ta uit:  ’n monster wat my aanval, pik en met sy vlerke slaan.

Die drie Staffies was een oomblik nog langs my, die volgende skoonveld.  Ek is ylings tussen struike en bome deur om hom af te skud.  In die kombuis het ek die bewende Staffies gekry.  En dis waar hulle die res van die 30 dae gebly het:  te bang om in die tuin uit te gaan.

Daar moes plan gemaak word.  Ek kry die Geel Bladsye, bel ’n plek wat voëls teel.  ’n Man met ’n sterk Britse aksent antwoord.

“Could you please tell me how to discipline swans?” vra ek.

“Wha’?” vra hy.  Ek herhaal my versoek en hoor hoe hy agtertoe roep.  “Here’s a woman on the line who wantsa know how to f…n discipline a f…n swan!”  En ek hoor die histeriese lag doer agter.

Ek trek die internet nader.  Lees oor swane.  En stap uit om die raad te beproef.  Dit werk so:  Wag die stormende swaan in.  Hou jou hand reguit uitgestrek, met die palm voor die swaan se gesig.  Raap hom vinnig op en gooi hom in die dam.

Dit werk soos ’n bom.  Maar nie met almal nie.  Ta slaan ’n duik in ’n BMW se deur, jaag ’n man dat hy val en sy bril breek, stamp my buurvrou in die dam en terroriseer haar tot sy elke nuwe nael teen die wal afbreek.  Ek sien eise en prokureurs kom.  En die fietsryer is maar 10 dae in sy toer in!

Die swane word gevang en afgekamp, hulle wittebrood verby.  En daar begin Ta vir Ma ’n nes bou!  Toe die kuikens uitbroei, is die fietsryer terug.  Drie grys swaantjies klim op Ma se rug en loer tussen haar gekartelde rugvere uit.  ’n Prentjie!  Maar Ta raak kwaaier by die dag:  Hy val tot die heining aan en eindig by die veearts met ’n bloeiende snawel.

Ons plaas toe ’n advertensie:  “Gratis aan ’n goeie huis:  een paar swart swane met drie kuikens.”  Hulle kry gou ’n baas op ’n kleinhoewe.

Ek bel om uit te vind hoe dit met die swane gaan.  Goed, sê die eienaar, maar die Great Danes wil nie meer buitentoe gaan nie.

Later bel sy om te laat weet die mannetjie is morsdood opgetel.  My hart krimp.  Arme ou mamma-swaan.  En toe kry ons die uitknikker- laaste oproep:  Die jong swaantjies het al drie weggevlieg.  Mamma Swaan het alleen agtergebly:  met haar geknipte vlerk en haar leë nes.

Vind die oorspronklike stuk op http://www.rapport.co.za/MyTyd/Nuus/Fluit-fluit-Lee-nes-20131115

No comments yet.

Leave a Reply